Jameson-inval

Jameson-inval

Berede infanterie van die Kaapkolonie wat die Boere-verdediging by Doornkop bestorm. 1 Januarie 1896.
Datum 29 Desember 18952 Januarie 1896
Ligging Zuid-Afrikaansche Republiek
Resultaat Oorwinning vir die Boeremagte
Strydende partye
Vlag van Verenigde Koninkryk Cecil John Rhodes
Vlag van Verenigde Koninkryk Leander Starr Jameson
Vlag van Verenigde Koninkryk Hervormingskomitee
Vlag van Zuid-Afrikaansche Republiek Zuid-Afrikaansche Republiek
Bevelvoerders
Vlag van Verenigde Koninkryk Leander Starr Jameson Vlag van Zuid-Afrikaansche Republiek Piet Cronje
Ongevalle
18 gesneuweldes en omtrent 40 gewondes[1] 4 gesneuweldes en 5 gewondes[1]

Die Jameson-inval (Engels: Jameson Raid, 29 Desember 1895 - 2 Januarie 1896) was 'n mislukte aanslag op die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Cecil John Rhodes, wat in daardie stadium die premier van die Kaapkolonie was, het die inval beplan en gefinansier as deel van sy ideaal om 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag tot stand te bring.

Ten einde die inval in die oë van die res van die wêreld te regverdig, moes dit saamval met 'n kunsmatig aangewakkerde revolusie onder die Uitlanderbevolking van Johannesburg. Die invallers, gelei deur dr. Leander Starr Jameson, sou die Uitlanders dan op hulle versoek te hulp snel, oënskynlik om 'n volskaalse burgeroorlog te voorkom, maar in werklikheid om die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika die geleentheid te gee om tussenbeide te tree.

Hy sou dan aandring op 'n wetgewende vergadering wat deur die Uitlanders oorheers sou word en wat bereid sou wees om Transvaal by 'n Britse federasie te laat aansluit. Die Uitlanderopstand het egter weens 'n gebrek aan geesdrif nooit plaasgevind nie. Jameson se inval is daardeur tot mislukking gedoem. Die inval het die spanning in die Suid-Afrikaanse politiek laat oplaai en grootliks bygedra tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899. In 1890 het Cecil John Rhodes (1853- 1902) met die steun van J.H. Hofmeyr en die Afrikanerbond premier van die Kaapkolonie geword. Gerugsteun deur sy persoonlike finansiële mag, was hy toe meer as ooit tevore in 'n gunstige posisie om sy ideale vir 'n verenigde Britse Suid-Afrika te verwesenlik.

Hy het uit die staanspoor verklaar dat hy as premier van die Kaap slegs "Suid-Afrikaanse politiek" sou bedryf, waarmee hy bedoel het dat hy die belange van Suid-Afrika as geheel sou bevorder en enige ontwikkelings van isolasionisme sou teenwerk. Die pogings van Britse imperialiste om die Zuid-Afrikaansche Republiek by 'n Brits-beheerde federasie te betrek of tot aansluiting by 'n tolunie te dwing, het teen 1894 nog geen vrugte afgewerp nie.

Hulle het wel daarin geslaag om die ZAR se uitbreiding ooswaarts na Swaziland te fnuik en die beleid van omsingeling 'n stap verder gevoer deur die anneksasie van Rhodesië (vandag Zimbabwe) in 1894. Betsjoeanaland het reeds in 1885 'n Britse protektoraat geword en Zoeloeland (vandag Natal) is in 1887 geannekseer. Die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai, wat die ZAR onafhanklik van Britse hawens sou maak, is egter in 1894 voltooi en die daaropvolgende jaar in gebruik geneem.

Rhodes was bevrees dat die ZAR met sy goudrykdom en 'n eie spoorweg na Delagoabaai tot die ekonomiese reus van Suid-Afrika sou ontwikkel en daardeur sy wil op die Britse gebiede sou kon afdwing. Hy was bereid om enige middel aan te wend am die ZAR se onafhanklikheid te beëindig. Die Uitlandervraagstuk wat in Johannesburg ontstaan het, het aan hom en die ander imperialiste 'n gulde geleentheid gebied am hulle met die ZAR se binnelandse aangeleenthede te bemoei.

  1. 1,0 1,1 (en) Fitzpatrick, James Percy (1899). "VI. The Invasion". The Transvaal from Within: A Private Record of Public Affairs. London: William Heinemann. Besoek op 3 Mei 2015.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search